Rulhof van der Merwe ZS4RM het weereens gewys dat hy nie gras onder sy voete laat groei wanneer dit by die Amateur Radio stokperdjie kom nie. Die Blog het al verskeie kere artikels geskryf oor hierdie jong dinamiese radio amateur. As gekyk word na die lesersgetalle dan is dit duidelik dat die artikels tot groot belanstelling onder die publiek gelei het. Indien u die artikels nog nie gelees het nie kan u gerus op die onderstaande skakels klik om meer uit te vind oor die jong man:
(1) Bloemfonteinse jong aktiewe radio amateur skud die Rosestad behoorlik wakker! (887)
(2) Jong Radio Amateur van Bloemfontein ontvang toekennings tydens die afgelope SARL Nasionale Konvensie (298)
(3) Vyftienjarige Radio Amateur ryg die pryse in - Volksblad (77)
(4) Jong Bloemfonteinse radio amateur bevorder Amateur Radio Kommunikasie in sy Gemeenskap, Suid Afrika asook die Buiteland. (418)
(5) Rulhof ZS4RM - AllStar Portable / Mobile Node Project (243)
(6)Tiener (15) van Bloemfontein ry die radiogolf - Karen van der Berg OVM NUUS (Nie Beskikbaar)
Rulhof van der Merwe het in Mei 2022 toe hy 13 jaar oud was die Amateur Radio Eksamen (RAE) suksesvol afgele en die roepsien ZU4R verwerf. Hy het 'n uitdaging aanvaar om sy ZS roepsein te bekom en 'n jaar later in Mei 2023 op die ouderdom van 14 jaar het hy sy ZS roepsein vewerf nadat hy die eksamen suksesvol geslaag het. Die roepsein ZS4RM is aan hom toegeken twee dae voor sy 15 de verjaardag.
Die 2026 SARL (Suid-Afrikaanse Radioliga) Nasionale Konvensie en Jaarlikse Algemene Vergadering (AGM) het van 1–3 Mei 2026 by The Willows Holiday Resort & Conference Centre in Port Elizabeth (Gqeberha) plaasgevind. Die suksesvolle byeenkoms is aangebied deur die Port Elizabeth Amateur Radio Society (PEARS ZS2PE).
Rulhof is nie iemand wat kan stilsit nie. Die daarstelling van 'n uiters suksesvolle amateur radio netwerk in die Suid Kaap wat gebruik maak van VOIP en RF Radio Send / Ontvangers (herhalers) om plaaslik asook wereldwyd te kan kommunikeer met 'n klein twee rigting radio het Rulhof se belangstelling onmiddelik geprikkel. Hy het aangedui dat hy ook 'n Echolink Netwerk wil oprig in Bloemfontein sodat plaaslike radio amateurs die stelsel kan gebruik om ook wereldwyd te kan kommunikeer. 'n Verdere beweegrede was dat hy graag meer aktiwiteite daar wou stel in Bloemfontein wat sou behels die uitsaai van nuusbulletins, amateur radio gesprekke en uitsaai van velerlei gebeurtenisse vanuit ander dele van die land asook wereldwyd.
Nou ja ons ken Rulhof as 'n jong man met dryfkrag en het hy besluit om 'n Mobiele AllStar Node te bou en die besluit en ander prestasies sou weereens lei tot 'n besonderse toekenning vanaf die Suid Afrikaanse Radio Liga. Besonderhede oor die projek is beskikbaar in die bostaande skakels onder (5) Rulhof ZS4RM - Allstar Portable / Mobile Node Project.
Rulhof ZS4RM is tydens die afgelope konvensie vereer met die "SARL Young Amateur Excellence Award". Die toekenning is vir sy aktiewe bevordering van die stokperdjie, hetsy by die skool, tydens vakansies, by die Voortrekkers en die opstel van 'n AllStar Draagbare / Mobiele Node met Echolink in Bloemfontein.
Die neergelegde vereistes vir die toekenning is soos volg:
SARL Jong Amateur Uitnemendheids Toekenning
Hierdie toekenning sal fokus op die erkenning van jeug prestasies in amateur radio. Tans is daar geen toekenning vir die jeug nie en hierdie toekenning sal die behoefte aanspreek om die prestasies van ons jonger geslag te erken.
Daar is drie kategorieƫ vir die erkenning van prestasies soos volg:
- Genomineerdes moet aktiewe deelname en toewyding binne 'n klub, groep of erkende organisasie getoon het in die ontwikkeling en groei van die amateur radio diens ter ondersteuning van hul mede-amateurs,
- Hul toewyding aan amateur radio gedemonstreer het deur persoonlike prestasies en bedryfsprestasies,
- Die ontwikkeling van 'n beduidende projek (hardeware of sagteware) vir gebruik in amateurradio.
Genomineerdes moet gelisensieerde radio amateurs wees en jonger as 25 jaar oud wees.
Vorige Ontvangers van die SARL Jong Amateur Uitnemendheidstoekenning:
2019 Glen Bailey ZR6G
Alastair Skudder ZS6RAS
Cameron Eales ZS6CYE
2020 Joshua Stone ZS1BOI
2021 nie toegeken nie
2022 Bryce McLean ZS1BWM
Kiara McLean ZS1ISS
2023 nie toegeken nie
2024 Rulhof van der Merwe ZS4RM
2025 Elri du Rand ZU6EDR
Die toekenning is Saterdag tydens die 2026 SARL (Suid-Afrikaanse Radio Liga) Nasionale Konvensie en Jaarlikse Algemene Vergadering oorhandig aan Rulhof ZS4RM deur Nico van Rensburg ZS6QL President - Suid Afrikaanse Radio Liga.
Baie geluk aan Rulhof van der Merwe ZS1RM met die besonderse prestasie!
Oor die SARL:
Die Suid Afrikaanse Radio Liga (SARL), voorheen bekend as die South African Radio Relay Liga (SARRL), is 'n nie-winsgewende organisasie wat die belange van amateur radio-entoesiaste in Suid-Afrika verteenwoordig. Die SARL verteenwoordig sy lede en alle gelisensieerde amateur radio operateurs in Suid-Afrika en is die nasionale verteenwoordiger van amateur radio wat by tye skakel met die Suid-Afrikaanse Regering.
Dit sluit die bevordering van deregulering en vereenvoudiging van die amateur radio diens, en uitbreiding van die aantal amateurradio operateurs in Suider-Afrika in. Die SARL propageer en bevorder die rol van amateur radio in die samelewing, en bevorder die gebruik van amateur radio in skole as 'n toegangspunt tot die velde van wetenskap en tegnologie. Die SARL is die nasionale lid vereniging wat Suid-Afrika in die Internasionale Amateur Radio-Unie verteenwoordig en is 'n wereld lid van die IARU-Streek 1.
Die doel van die SARL is om alle aktiwiteite wat verband hou met amateur radio, draadlose kommunikasie, rekenaar wetenskap en radio wetenskap in die algemeen aan te moedig, te ontwikkel en te bevorder. Die rol van die SARL is om amateur radio frekwensie toekennings te beskerm, om internasionale welwillendheid en begrip te bevorder. Die SARL bevorder ook erkenning vir amateur radio in alle sfere van die samelewing in Suid-Afrika.
Die Suid Afrikaanse Radio Liga het sy 100 ste bestaansjaar in 2025 gevier.
Webtuiste van die SARL: https://mysarl.org.za/
Amateur Radio - Jou toegangspoort tot 'n loopbaan in ingenieurswese en wetenskap!
Fotos van die 2026 SARL (Suid-Afrikaanse Radioliga) Nasionale Konvensie en Jaarlikse Algemene Vergadering wat plaasgevind het by The Willows Holiday Resort & Conference Centre in Port Elizabeth (Gqeberha). Klik op die fotos om te vergroot.
Videos van die Byeenkoms:

































